ANC gaan nog drie van DA aankla oor 'bedrog'
2010-09-28 09:03
George - Strafregtelike klagte oor beweerde bedrog en omkopery gaan teen drie dienende DA-lede in die Eden-distriksmunisipaliteit aanhangig gemaak word.
Die ANC het gister by monde van Piet van der Hoven, ANC-raadslid in Eden en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, gesê die party sal seker maak dat die klagte ingedien word.
Dit kom nadat Deon Nomdoe, ’n DA-lid en werknemer van Eden, onlangs skuldig bevind is aan omkopery. Die ANC glo meer mense is by die saak betrokke.
Nomdoe het onlangs skuld beken in die streekhof in George dat hy Anthony Ewerts van die National People’s Party verlede jaar omgekoop het om vir die DA se kandidaat tydens die verkiesing van ’n senior politieke ampsdraer te stem. Hy het Ewerts R20 000 vir sy stem aangebied.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister bevestig dat Nomdoe skuld beken het.
Hy is tot vyf jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, en ’n boete van R6 000 gevonnis.
Van der Hoven het gesê die afhandeling van die hofsaak beteken nie dat die aangeleentheid afgehandel is nie. Trouens, dit is net die begin.
Nomdoe was na bewering bloot die boodskapper.
Tans word ’n tugverhoor deur die munisipaliteit teen Nomdoe gehou. Die ANC glo daar is meer feite wat tydens dié verhoor sal uitkom.
Van der Hoven het gesê die munisipale bestuurder sal in terme van munisipale wetgewing verplig wees om op te tree.
Die ANC sal nieteenstaande korrupsieklagte indien.
Marius Swart, die DA se kiesafdelingshoof vir George, het by navraag bevestig dat Nomdoe ’n DA-lid is.
Hy het die aangeleentheid die naweek aan mnr. Anton Bredell, DA-voorsitter in die Wes-Kaap, oorhandig.
Die DA se provinsiale komitee sal nou die aangeleentheid oorweeg en, indien nodig, oor verdere optrede besluit.
- Die Burger