ANC-fees nie net blink
2012-01-09 08:00
Bloemfontein – ’n Duur eeufeesviering met oorvloedige lofsange vir die ANC se merkwaardige verlede; pruttende irritasie oor die spanning van die hede en sonder oplossings vir die groot toekoms-uitdaging van hoe om as regerende party Suid-Afrika doeltreffend te bestuur.
Só word die afgelope naweek se groot ANC-makietie in Bloemfontein bestempel. Die uitjouery van pres. Jacob Zuma deur ’n deel van die skare in die stampvol Vrystaatstadion en ’n vermaning aan ’n groep Julius Malema-ondersteuners was die brandnetels wat die regerende party aan die harde werklikhede herinner.
Boonop het dit ook geblyk dat die ANC-leierskap die bydrae van die party se jeugliga tot die ANC se jaarlikse beleidsverklaring uitgelaat het en die stryd om die siel van die regerende party daarmee verhewig, berig Jan-Jan Joubert.
’n Ander deel van die skare het weer in afwagting op Zuma se koms die proteslied Umshini wam gesing.
Intussen word Zuma se belofte in sy “konvensionele boodskap” van die strenger en konsekwente handhawing van dissipline as ’n baie duidelike boodskap aan Malema en sy ondersteuners beskou, het prof. André Duvenhage, politieke wetenskaplike van die Noordwes-universiteit, Sondag gesê, berig Gert Coetzee.
Prof. Theo Neethling, politieke wetenskaplike van die Universiteit van die Vrystaat, het gesê ondanks die vieringe van die ANC se merkwaardige geskiedenis, bly sy uitdagings die drie knelpunte wat Zuma in sy toespraak uitgelig het – werkloosheid, armoede en ongelykhede.
Hoewel Floyd Shivambu, jeugliga-woordvoerder, Sondag aangevoer het die rede vir die weglating van die jeugliga-boodskap is dat dit te laat gestuur is, is Sondagaand in politieke kringe gesê die inhoud van die bydrae sal die spanning tussen die jeugliga, onder leiding van die geskorste Julius Malema, en die Zuma-groepering in die party vererger.
Die Vrystaatstadion was stampvol en by een hek het ’n stampery ontstaan toe nog mense wou in. Binne het mense tot 10 uur lank in hitte van 38°C aan die verrigtinge deelgeneem.
Met Zuma se toespraak het leë kolle in die paviljoen begin wys.
Kort voor dit het Baleka Mbete, ANC-voorsitter, ’n faksie wat “Juju, Juju, Juju” gedreunsing het, vermaan “dit is nie onmoontlik” dat hulle uit die stadion gesit kan word nie.
Minder as die helfte van die verwagte sowat 100 huidige en voormalige staatshoofde het opgedaag, maar nogtans was ANC-lofprysing die refrein van Saterdagaand se groot staatsbanket wat Zuma vir sowat 1 500 gaste gehou het.
Die hoogtepunt van die dag was die aankoms van die ANC se eeufees-vlam en die sny van die ANC se verjaardagkoek.
Die Afrika-leiers en ander sprekers se herhaaldelike boodskap was dat Afrika se stryd daarop gerig was om sy waardigheid én menslikheid te herwin.
Die hele Afrika is nou vry deurdat geen land meer onder die koloniale juk is nie en omdat rassisme oorkom is, maar die nuwe stryd vir die bevryding van sy mense van armoede en MIV/vigs is aan die gang. Hiervoor kyk die vasteland na Suid-Afrika om ontwikkeling en stabiliteit deur sy leierskap mee te bring, het hulle gesê.
Daar is ook kennis geneem van die uitdagings waarvoor Afrika staan.
Die ANC se oorlewing en standhoudendheid as Afrika se enigste bevrydingsorganisasie wat ’n eeu lank bestaan, is ook telkens uitgewys.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad