ANC-fees gaan straks nog méér kos
2011-12-15 08:32
Bloemfontein – Die regering gaan meer vir die ANC se eeufeesviering aanstaande maand in Bloemfontein opdok as wat aanvanklik te kenne gegee is. Die nasionale voorsitter van die ANC, Baleka Mbete, het Woensdag aan Volksblad gesê die regering gaan die verblyf van besoekende staatshoofde van ander lande wat hier gaan tuisgaan, betaal.
Tientalle huise in die luukse-woonbuurt Woodland Hills Wildlife Estate word ten duurste vir die gaste gehuur.
Die ANC het aanvanklik ontken dat die regering se geld gebruik gaan word vir die verblyf. Daar is aan die media gesê internasionale gaste se verblyf is vir hul eie rekening en dat huurgeld direk aan die eienaars van die huise betaal gaan word.
William Bulwane, woordvoerder van die ANC in die Vrystaat, het verlede week aan die koerant gesê 60 huise is reeds afgestaan om as huisvesting ten tye van die feesvieringe te dien. Hy het toe gesê die regering sal nie die rekening betaal nie.
Ingeligtes sê die huise word verhuur vir ’n bedrag van tussen R25 000 en R50 000 per dag.
In ’n eksklusiewe onderhoud met Volksblad het Mbete gister gesê daar is op Woodlands besluit omdat dit die beste en veiligste plek is om huidige en voormalige presidente te huisves.
Dit word deur protokol bepaal dat staatshoofde se verblyf in Suid-Afrika die regering se verantwoordelikheid is.
Sy het voorts gesê die kwessie word nog bestudeer en sy kan nie oor die koste daarvan kommentaar lewer nie.
Voorts het sy gesê 30 van die 100 genooide staatshoofde het reeds bevestig hulle gaan die feesvieringe, wat die ANC meer as R100 miljoen kan kos, bywoon
Mbete het nie die name van die staatshoofde wat reeds bevestig het, bekend gemaak nie. “Party staatshoofde sal verteenwoordigers in hul plek stuur.”
Sy het erken die uitnodigings is nie op die beplande tyd uitgestuur nie en dit is die rede waarom daar genooide gaste is wat nog nie geantwoord het nie.
Op die vraag of pres. Robert Mugabe van Zimbabwe hier gaan wees, het sy net gesê al die staatshoofde van Afrika is genooi.
Die Dalai Lama het nie ’n uitnodiging ontvang nie omdat hy nie ’n geskiedenis met die ANC deel nie.
“Maar as die Dalai Lama graag ’n uitnodiging wou hê, sou dit glad nie ’n probleem gewees het nie,” het mnr. Jackson Mthembu, die ANC se woordvoerder, gesê.
Mbete sê sy is seker daar sal genoeg verblyf vir die meer as 100 000 mense wees wat moontlik die feesvieringe gaan bywoon.
Itumeleng Moses, hoofekonoom van die Vrystaatse regering, sê die verblyf- en spysenieringsgeld wat hier bestee gaan word, gaan ’n groot ekonomiese inspuiting vir die stad wees. ’n Wins van tussen R40 miljoen en R50 miljoen word gewoonlik gemaak wanneer Macufe, Mangaung se kultuurfees, in Bloemfontein aangebied word.
Mbete het Woensdag op ’n nuuskonferensie gesê die ANC se planne vir die eeufeesvieringe verloop seepglad.
Die feesvieringe gaan die hele jaar aanhou. Dit begin met ’n eeufees-gholfdag op 6 Januarie.
Pres. Jacob Zuma gaan op 8 Januarie ’n toespraak lewer en dit sal gevolg word deur sang en dans wat die verhaal van die ANC uitbeeld.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad