ANC-eeufees 'sal so R100m. kos'
2011-11-09 07:04
Johannesburg – Die ANC se 100ste verjaardagpartytjie gaan minstens R100 miljoen kos, het Baleka Mbete, die ANC se nasionale voorsitter, Dinsdag op ’n mediakonferensie in Luthuli-huis in Johannesburg gesê.
“Dit is nie goedkoop nie, maar ons glo dit wat ons daardeur gaan bereik, is elke sent werd.”
Die ANC het nog nie die hele bedrag ingesamel nie, maar volgens Mbete het die party “baie vriende” wat bydraes sal lewer.
Tussen 120 000 en 150 000 mense word verwag vir die eeufees wat in Januarie in Bloemfontein gehou word.
Die ANC beplan al die afgelope twee jaar aan die fees.
Dinsdag was presies twee maande voor die ANC se amptelike 100ste verjaardag op 8 Januarie.
“Ons is vandag 60 dae weg van die langverwagte 8 Januarie-feesviering om die verjaardag van die oudste oorlewende bevrydingsorganisasie op die vasteland te vier.”
Oudpres. Nelson Mandela word by die viering verwag, het Mbete gesê.
“Of hy in staat sal wees om die fees by te woon is ’n ander vraag.”
Die fees sal onder meer ’n nagwaak, toekenningsaand, tradisionele reinigingseremonie en ’n presidensiële gala-aand insluit.
Die hoofgebeure sal in die Mangaung-rugbystadion gehou word.
Groot TV-skerms sal in ander sportstadions in die stad opgerig word vir feesgangers vir wie daar nie in dié stadion plek is nie.
Volgens Mbete sal verskeie internasionale gaste, waaronder talle Afrika-leiers, die fees bywoon.
“Gaste van verskeie voormalige bevrydings- en anti-apartheidsbewegings van oor die wêreld heen sal daar wees.”
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het die belang van die fees beklemtoon.
“Honderd jaar kom nie sommer kort-kort nie. Vir sommige organisasies kom dit nooit nie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld