ANC betaal vir eeufees, sê Zuma
2011-11-11 08:04
Kaapstad – Dit is die ANC se eie geld wat ingesamel is om sy eeufeesviering te betaal, het pres. Jacob Zuma Donderdag in die parlement gesê.
Hy het reageer op stellings van me. Lindiwe Mazibuko, DA-parlementêre leier, dat belastinggeld gebruik word om infrastruktuur vir die ANC se eeufeesvieringe in Bloemfontein op te knap.
“Sal u saamstem dat dit verkeerd is om belastinggeld te gebruik vir dié geleentheid, en sal u saamstem dat besteding van dié aard as vrugtelose en vermorste uitgawes aangeteken word?” het Mazibuko gevra.
Die ANC se eeufeesvieringe gaan nagenoeg R100 miljoen kos.
Zuma het gesê die ANC is nie soos ander politieke partye nie.
“Daar is mense wat die werk wat die ANC gedoen het om die verdrukker en die verdruktes te bevry, erken. En wanneer hulle net soos ander die geriewe van die land wil gebruik, is daar dan iets daarmee verkeerd?”
Zuma het gesê daar kan gepraat word indien daar bewyse is dat amptenare regeringsbegrotings vir die eeufees gebruik het.
Mazibuko wou ook weet wat sy standpunt is oor die ouditeur-generaal se verslag dat R21 miljard as vermorste en vrugtelose uitgawes in departemente aangeteken is.
In dié verslag het vrugtelose en vermorste uitgawes van nasionale departemente van R13 miljard in 2009-’10 tot R21 miljard die afgelope boekjaar toegeneem.
Ook Nick Koornhof, Cope-LP, het gesê die regering behoort die voorbeeld te stel met besparing. Hy wou weet of daar koppe gaan rol oor dié vermorste uitgawes.
Zuma het gesê: “Waar daar oortree word, word daar opgetree. Hoe opgetree gaan word, sal van die aard van die oortreding afhang.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger