ANC bekommerd oor inligting wat uitlek
2011-11-28 14:09
Johannesburg – Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het sy kommer uitgespreek oor vertroulike inligting van sy vergaderings wat uitlek, het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, Maandag gesê.
"Die tendens word sterk gekritiseer omdat nasionale leiers van die ANC verlaag word tot bronne van joernaliste," het hy ná 'n vergadering van die nasionale uitvoerende komitee gesê.
"Jy word gesigloos... dit is verdoemend."
Mantashe het gesê die ANC moet "verstaan" wie die bronne is en doen wat hy kan om die "tendens te ontmoedig".
Die ANC het sy vier dag lange NUK-vergadering die afgelope naweek in Mangaung (Bloemfontein) gehou. Dit was die laaste vergadering van die jaar.
Mantashe het gesê die vergadering het gefokus op die eeufees-vieringe volgende jaar en die ANC se nasionale beleidskonferensie.
Dié konferensie word volgende jaar vanaf 26 tot 28 Junie by die Gallagher Estate-konferensiesentrum in Johannesburg gehou.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA