ANC appelleer teen 'skiet die Boer'-beslissing
2011-09-13 12:05
Johannesburg – Die ANC het gesê hy gaan teen 'n beslissing van die gelykheidshof, wat die sing van dubula iBhunu (skiet die Boer) verbied, appelleer.
Jessie Duarte, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het aan die eNews-kanaal gesê die party gaan teen regter Colin Lamont se beslissing dat dubula iBhunu haatspraak is, appelleer.
Lamont het Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, en die ANC verbied om die lied in die openbaar of privaat te sing.
Duarte het gesê dit sal onmoontlik wees om die beslissing toe te pas. Sy het gesê voorbereidings vir die appèlproses sal Dinsdag begin.
AfriForum en TLU SA het Malema voor die hof gedaag nadat hy op verskeie geleenthede die woorde “Dubula iBhunu” (“Skiet die Boer”) gesing het.
Dié partye het aangevoer dat dié woorde 'n bedreiging is vir minderheidsgemeenskappe en die veiligheid van Afrikaners en boere bedreig.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter