ANC amptenaar gekaap
2009-11-24 21:04
Johannesburg – ’n ANC-amptenaar is Maandagaand voor sy vriend se huis in Pretoria gekaap.
Ishmael Mnisi wat as ’n media-koördineerder by die ANC Luthuli-huis werk, het ‘n vriend in Landros Park gaan aflaai en voor die huis gewag toe twee gewapende mans hom omstreeks 20:30 oorval het, het Brian Sokutu, ‘n ANC-woordvoerder gesê.
“Die kaping is onaanvaarbaar,” het Sokutu gesê.
“Hulle was gereed om my te skiet. Hulle het my gedwing om uit die motor te klim, terwyl een van hulle ‘n wapen teen my kop gedruk het,” het Mnisi gesê.
Die kapers het ‘n skootrekenaar, bankkaarte, ‘n beursie, geld en ‘n selfoon gesteel.
"Een van hulle het voorgestel om my saam te neem, maar die ander een het geweier en ‘n stryery het ontstaan. Dit is toe dat ek begin weghardloop het. Ek is net dankbaar dat ek nog lewe,” het hy gesê.
Die kapers het met sy BMW gevlug.
-Sapa