ANC ‘aanbid nie voorvaders’
2012-01-05 09:37
Bloemfontein – Die reinigingseremonie en optrede deur tradisionele geneeshere by die ANC se eeufeesvieringe gaan nie oor die aanbidding van voorvaders nie, maar oor die “verering van die gees van diegene wat deel van die (ANC-) geskiedenis was.
Volgens die beginsels van Afrika-teologie, wat die ANC ten volle aanhang en bevorder, skort niks met die insluiting van Afrika-geloofspraktyke op die ANC-fees nie.
Só het dr. Vukile Mehana, die ANC se “kapelaan-generaal”, gister in ’n verklaring gesê waarin hy eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, se voorneme betreur om nie die ANC-eeufees by te woon nie weens die tradisionele seremonies en voorvaderlike gebede tydens die reinigingseremonie.
Meshoe het Christene Dinsdag versoek om hulle nie te laat mislei deur te glo hulle kan in Jesus Christus, wat uit die dood opgestaan het, én in afgestorwe voorvaderlike geeste glo nie.
Meshoe is gister op ’n ANC-nuuskonferensie in Bloemfontein ook gekap deur dr. Mathole Motshekga, parlementêre ANC-hoofsweep, wat gesê het Meshoe onthul sy eie onkunde oor die geskiedenis van Christenskap en dat vir afgestorwenes gebid kan word.
Volgens Mehana bevestig Meshoe se afwesigheid “weens sy fundamentalistiese Christen-gelowe dat hy geloofsonver- draagsaamheid beoefen – gedrag wat onaanvaarbaar en strydig met die (ANC-) grondwet en met die fundamentele waardes en beginsels van Christenskap is”.
Hy het ook gesê Meshoe verontagsaam dit dat die ANC ’n “formasie van vele sosiale magte, insluitende tussengeloofs- en ekumeniese formasies met verskillende gelowe, kulture en teologieë” aanhang.
Voorts sluit “die karakter en beleid van die ANC erkenning, respek en verdraagsaamheid van alle sodanige gelowe in, insluitende Afrika-godsdiens op ’n regverdige en vrye grondslag”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger