ANC: Verstaan asb, Zuma het groot familie
2010-03-09 11:39
Johannesburg – Die ANC is jammer dat hulle president, Jacob Zuma, die sperdatum waarin hy sy belange aan die parlement moes verklaar het, gemis het, maar hulle het gesê dat die omstandighede in ag geneem moet word.
“Ons het ‘n spesiale saak in dié dat ons ‘n president met ‘n groot familie het en dus is dit nie maklik nie,” het woordvoerder Brian Sokutu Dinsdag gesê ná die onthulling dat Zuma die 60-dag spertyd gemis het.
“Ons is jammer oor die feit dat die sperdatum gemis is, maar soos ek voorheen gesê het, die omstandighede moet verstaan word,” het Sokutu gesê.
“Wat begryp moet word, is die feit dat die president meer as een vrou het en dat dit dus ‘n ander stel omstandighede is. En ons wil vra dat mense dit regtig moet respekteer. Hy het nie gesê dat hy nie gaan saamwerk nie.”
Zuma, wat 3 vroue en 20 kinders het, word deur prokureurs ondersteun in die saak nadat dit oorspronklik berig is dat sy kantoor gevoel het dat daar dubbelsinnigheid is in die wet oor die verklaring van sy belange.
- Sapa