ANC: Uitspraak oor struggle-lied belaglik
2010-03-30 14:23
Johannesburg – Die hooggeregshof se besluit om die lied met die woorde “skiet die boer” te verban, is belaglik, het die ANC Dinsdag gesê.
“Dit wil vir ons voorkom of ‘n vals twis opgemaak is om ‘n vooropgestelde uitkoms te bereik,” het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, aan die media gesê.
Die party het tot hierdie slotsom gekom nadat hulle die uitspraak bestudeer het, het hy gesê.
“Hulle [die respondent en die aansoeker] is in dieselfde organisasie ... hulle het hof toe gegaan met ‘n voorafopgestelde uitkoms in gedagte.”
Mantashe het verwys na ‘n beslissing in die hooggeregshof in Johannesburg Vrydag dat die woorde “Dubula ibhunu” (skiet die boer) ongrondwetlik en onwettig is.
Willem Harmse, ’n besigheidsman van Delmas, het aansoek gedoen om 'n interdik om te verhoed dat sy kollega, Mohammed Vawda, die woorde op plakkate gebruik tydens ‘n beplande optog teen misdaad.
Beide mans behoort aan dieselfde organisasie, die Kantoor vir die Beskerming van die Grondwet.
Mthembu het die uitspraak as onbevoeg beskryf.
“Daar is soveel ongeregtigheid wat uit die uitspreek voortkom,” het hy gesê.
Die ANC sal appèl aanteken teen die uitspraak om ‘n meer korrekte grondwetlike interpretasie van die struggle-liedjies te kry, wat hulle beweer ‘n groot deel van die land se geskiedenis uitmaak.
- Lees hier wat een van ons lesers sê oor dié onderwerp.
- Sapa