ANC-LP jammer oor 'xenofobiese' uitlatings
2011-07-03 17:56
Johannesburg – Die ANC-LAP Maggie Maunye, voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het Sondag om verskoning gevra vir uitlatings “wat moontlik as xenofobies opgevat kon word,” het die ANC gesê.
“Sy besef haar opmerkings, wat gepoog het om Suid-Afrika se uitdagings rakende immigrasiebeheer te onderstreep, moontlik onsensitief was teenoor die toestand van baie Afrika-burgers wie se teenwoordigheid in hierdie land die nagevolg van geweld in hul eie lande is,” het Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep in die parlement, in ‘n verklaring gesê.
“Comrade Maunye het diepe spyt oor die opmerkings en vra onvoorwaardelik om verskoning vir die skade wat die opmerkings aangerig het,” het hy gesê.
Maunye het ná ‘n komiteevergadering Woensdag geïmpliseer dat buitelanders wat na Suid-Afrika stroom hulpbronne opneem en Suid-Afrikaners daarvan weerhou om hul vryheid te geniet.
Die Independent Online het berig dat Maunye voorgestel het buitelanders moet weggewys word en het menseregtewette en die grondwet bevraagteken.
“Regtigwaar, hierdie inname, vir hoe lank gaan ons as Suid-Afrikaners hiermee aanhou?” het sy gevra.
“Gaan dit nie ons hulpbronne en die ekonomie van die land affekteer nie?
“Ek dink dat ons as die portefeuljekomitee moet sit en dit openlik bespreek; hoe lank gaan ons aanhou met die hierdie inname sonder die ondersteuning van ander lande.”
Luidens die webwerf se berig het sy gesê Spanje het vlugtelinge weggewys, maar Suid-Afrika het nie en het menseregtewette, die grondwet en “allerhande verskonings” aangehaal, al leef sy eie mense in armoede en is werkloos.
“Ons het nog nooit ons vryheid as Suid-Afrikaners geniet nie. Ons het dit in 1994 gekry en ons het strome en strome vlugtelinge of ongedokumenteerde mense in die land gekry, en ons wil altyd maak asof daar nie so iets is nie.”
Sy het ook gesê die “verkeerde mense” kom die land binne en het ‘n “Rwandese oorlogmisdadiger-persoon” as voorbeeld gebruik.
“Wat gaan ons oor hulle sê? Ons laat hierdie oorlogsmisdadigers in die land toe. Wanneer ons veronderstel is om vir hulle te sê hulle moet teruggaan, word ons vertel dat ons menseregtewette oortree en sulke goed.”
Volgens Motshekga het Maunye “versigtig nagedink” oor haar opmerkings en het herken dat haar uitgangspunte, al was dit nie so bedoel nie, teen die woorde en gees van ANC-beleide ingedruis het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA