ANC, FNB vergader oor advertensies
2013-01-24 17:53
Johannesburg – Die ANC sal Vrydag met Eerste Nasionale Bank (FNB) vergader oor dié maatskappy se omstrede You Can Help-advertensieveldtog.
"Hierdie vergadering is in reaksie op die advertensies aanlyn... wat die ANC genoop het om beswaar aan te teken oor die inhoud van dié advertensies," het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, Donderdag in 'n verklaring gesê.
"Die ANC-afvaardiging sal gelei word deur die sekretaris-generaal, kameraad Gwede Mantashe, en die FNB-afvaardiging sal gelei word deur Sizwe Nxasana, uitvoerende hoof van First Rand, die beherende maatskappy waaraan FNB behoort."
Die vergadering sal om 11:00 by Luthuli-huis plaasvind.
Die veldtog bestaan uit verskeie video’s van kinders in skooluniforms wat hulle hoop vir die land uitspreek.
“Die land word deur armoede oorrompel... terwyl [pres.] Jacob Zuma sy huis laat opknap,” het een jeugdige van KwaZulu-Natal gesê.
‘n Universiteitstudent van Gauteng het gesê: “Die regering dink net aan hulself... Ek is van ‘n plattelandse gebied en die regering sien nie wat gebeur nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA