ANC: Bloemfontein moenie pryse voor eeufees verhoog
2011-11-14 11:16
Johannesburg – Die leierskap van die ANC in die Vrystaat het die gasvryheidbedryf gevra om nie pryse vir verblyf voor dié party se eeufees-vieringe volgende jaar te verhoog nie.
"Die uitbuiting van besoekers was nog altyd 'n probleem. Die verdriedubbeling van verblyfkostes sit jou af. Rolspelers in die bedryf moet byeenkom om die probleem op te los," het Sibongile Besani, ANC-sekretaris in die Vrystaat, gesê.
Behalwe die tekort aan genoegsame verblyf in Bloemfontein, is daar ook kommer dat operateurs hul tariewe kan verhoog.
Besani het gesê daar is 26 000 beddens beskikbaar – ver minder as die 100 000 besoekers wat verwag word vir die 100-jaar-vieringe sedert die ANC in 1912 in Bloemfontein bekend gestel is.
Die ANC se 100ste verjaardagpartytjie gaan minstens R100 miljoen kos, het Baleka Mbete, die ANC se nasionale voorsitter, verlede Dinsdag op ’n mediakonferensie in Luthuli-huis in Johannesburg gesê.
“Dit is nie goedkoop nie, maar ons glo dit wat ons daardeur gaan bereik, is elke sent werd.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA