97% van mense getel
2011-10-30 06:48
Johannesburg - Sowat 97% van huishoudings in Suid-Afrika is die afgelope drie weke in Sensus 2011 getel, het Stats SA Vrydag gesê.
’n Suid-Afrikaner wat byna nie getel is nie, is emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, wat Saterdag sy kans gekry het.
Tutu het van die buiteland teruggekeer en is by die intrapslag by sy huis in Milnerton in Kaapstad ingewag.
Trevor Oosterwyk, sensuswoordvoerder, sê hulle het baie hard gewerk om seker te maak almal word getel. “Maar ongelukkig was daar ’n paar gesinne wat nie tuis was toe ons by hulle opgedaag het nie.”
Oosterwyk sê ’n skoonmaakfase begin Dinsdag. Amptenare gaan seker maak dat alle vraelyste wat uitgedeel is, korrek ingevul en ingesamel is. Mense wat nog nie getel is nie, word aangemoedig om met Stats SA in verbinding te tree sodat ’n amptenaar na hulle gestuur kan word.
Mense wat weier om getel te word, kan tronkstraf of ’n boete van tot R10 000 opgelê word, sê Oosterwyk.
“Ek weet nie hoekom mense sou wou weier nie. Al het jy politieke verskille met die huidige regering is dit jou verantwoordelikheid as ’n inwoner om deel te neem,” het hy vroeër gesê.
– Kontak Stats SA by 0800 110 248 of stuur e-pos aan census2011@statssa.gov.za met jou besonderhede.
– Rapport
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA