90% van hervormde grond lê braak
2010-03-03 10:03
Pieter du Toit
Kaapstad - Sowat 90% van die 5,9 miljoen hektaar landbougrond wat die staat sedert 1994 vir grondhervorming aangekoop het, lê vandag braak.
Dié grond gaan ’n kapitaalinspuiting van R254 miljoen kry om dit weer lewensvatbaar te maak, het Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Dinsdag op ’n ministeriële inligtingsessie hier gesê.
’n Kwart van sy begroting vir die 2010-’11-boekjaar gaan gestort word in pogings om nagenoeg 200 plase, wat eens produktief was maar in onbruik verval het, te rehabiliteer. “Dié plase is as volhoubare ondernemings aangekoop en die gedagte was dat dit só sal bly. Dit het egter nie gebeur nie,” het Nkwinti gesê.
’n Verdere R207 miljoen in waarborge sal in samewerking met die tesourie en die Landbank bewillig word aan opkomende boere wat die gevaar loop om hul plase te verloor.
Hoewel hy die regering se planne verwelkom, het dr. Theo de Jager, Agri SA se visepresident, gesê die regering se reddingsboei beteken bloot hy betaal wéér vir plase wat hy reeds gekoop het.
“Hy gaan uiteindelik baie meer geld uithaal om die plase reg te ruk as wat hy daarvoor betaal het omdat dit nou soveel langer gaan vat om die plase op die been te kry.”
Hy het ’n belofte deur Nkwinti dat die departement sy hulpverlening aan nuut gevestigde boere gaan opknap, verwelkom.
“Opkomende boere wag gemiddeld tot 33 maande om kapitaal te kry. Niémand kan so oorleef nie.”
Die regering gaan voorts opkomende boere wat nie daarin slaag om plase volhoubaar te bedryf nie summier van die grond af jaag.
“Die beginsel van gebruik-of-verloor-dit gaan nou éérs van toepassing wees,” het Nkwinti gesê. “Ons gaan vennootskappe met bestaande en afgetrede boere aangaan om volhoubare ondernemings te vestig, maar diegene wat nie wil saamwerk nie, is uit.”
Hy het bygevoeg daar kan nie langer bekostig word om geld te verkwis op boerderye wat nie ’n volhoubare bydrae tot voedselproduksie lewer nie. Nkwinti het herhaal die regering gaan nie sy teiken van 30% van landbougrond teen 2014 in swart hande haal nie.
- Die Burger