90 in hof oor openbare geweld
2009-07-24 08:18
Johannesburg – Sowat 90 mense verskyn in die Balfour-landdroshof in Mpumalanga weens openbare geweld ná protesoptogte oor dienslewering in dié gebied.
“90 mense verskyn vandag (Vrydag) in die hof vir openbare geweld,” het kapt. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die situasie in Balfour is stadig besig om na normaal terug te keer, maar ek dink ons moet wag vir die hofbeslissing.”
“Enige iets kan gebeur. Die gemeenskap sal daarop aandring dat die mense vrygelaat word.”
Dié dorp is die afgelope paar dae geteister deur protesoptogte.
Inwoners van die Siyathemba-township het winkels beskadig, motorbande gebrand en buitelanders met klippe bestook.
Sowat 30 buitelanders moes by die polisiekantoor skuiling soek.
‘n Groep mense het ook die burgemeester se huis aan die brand gesteek.
Die regering en die ANC het dié protesoptogte veroordeel.
Sicelo Shiceka, minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, het Donderdag in ‘n verslag gesê finansiële wanbestuur in munisipaliteite is deels verantwoordelik vir die probleem.
In minder as ‘n maand het inwoners van meer as 20 dorpe die strate ingevaar om hul misnoeë oor swak dienslewering uit te spreek.
SAPA