81-jarige sterf week ná aanval in aftreeoord
2012-01-14 07:35
’n Bejaarde vrou van Bronkhorstspruit wie se gesondheid erg versleg het nadat twee rowers haar in die gesig geslaan het, is oorlede.
Ria van Niekerk (81) is gister in die vroeë oggendure in die waakeenheid van die Wilgers-hospitaal in Pretoria dood nadat sy Saterdagoggend in ’n aftreeoord aangeval is.
’n Hartseer Jani Combrink (51), een van haar dogters, het gister gesê komplikasies het by haar ma ingetree wat algehele orgaanversaking veroorsaak het.
“Haar positiewe ingesteldheid oor die lewe, sowel as kalmte en aanvaarding, maak haar dood vir ons draagliker.”
Die rowers het Saterdag omstreeks 02:00 by haar woonstel in die Ons Hoekie-aftreeoord ingebreek, haar vasgebind en erg in die gesig geslaan. Kort ná die aanval was sy kalm, maar haar toestand het later versleg.
Van Niekerk word oorleef deur haar man, Bennie, nog twee dogters, Christa Schreude en Corné Viljoen, nege kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Die begrafnis word Vrydag 20 Januarie om 11:00 uit die NG kerk Bronkhorstspruit gehou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld