8 vas vir moord op ouma, kleinkinders
2010-08-24 09:35
Johannesburg – Agt mense is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bejaarde vrou en haar vier kleinkinders in die dorpie Ngqeleni Sibubudu, het polisie in die Oos-Kaap Dinsdag gesê.
“Polisie het vier mense Maandag in hegtenis geneem en nog vier is Dinsdagoggend vasgetrek. Daar is dwars deur die nag aan die saak gewerk,” het lt. kol. Mzukisi Fatyela gesê.
Volgens Fatyela het polisie ‘n byl, wat glo die moordwapen is, en bloedbedekte klere wat vermoedelik aan die slagoffers behoort, gevind.
“Die agt verdagtes is in dieselfde dorpie waar die slagoffers vermoor is, gevind. Dié bewysstukke sal gestuur word vir ondersoek ,” het Fatyela gesê.
Masilenge Bambusiba (85) en haar vier kleinkinders, Lwazi Bambusiba (17), Lwando Bambusiba (10), Vela Nogamane (9) en Ezile Nogamane (5), is Saterdagaand in hul huis met ‘n skerp voorwerp doodgekap.
Die moordenaars het toegang tot die huis deur ‘n venster gekry en geen wapen is op die toneel gevind nie. Daar is niks tydens die aanval gesteel nie.
Die kinders se ouers was nie by die huis nie omdat hulle albei in Johannesburg, waar hul werk, woon.
Die verdagtes sal Woensdag in die hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA