8 000 babas sterf in vyf maande in SA
2010-12-20 12:00
Johannesburg – Sowat 8 000 babas is in die eerste vyf maande van die jaar in Suid-Afrikaanse hospitale dood, het die minster van gesondheid, Aaron Motsoaledi, gesê.
“Minstens 4 366 kinders onder die ouderdom van een jaar dood. As pasgebore babas bygevoeg word, is altesaam 8 001 sterftes aangemeld,” het die minister in ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag gesê, het The Times Maandag berig.
“Die hoof-oorsake van die sterftes is longontsteking (insluitende tuberkulose), diarree , vroegtydige geboortes, wanvoeding, ongelukke tydens swangerskap, soos bloeding en hoë bloeddruk,” het Motsoaledi gesê.
Die babas het tussen 1 Januarie en 31 Mei gesterf.
In meeste van die gevalle was MIV-infeksie die onderliggende oorsaak, het Motsoaledi gesê.
“Longontsteking word baie met MIV-infeksies, tuberkulose en ongesonde omgewings verbind. Daar is ‘n ministeriële komitee van kenners in kindergesondheid wat die sterftes ondersoek.”
Statistieke vir die Wes-Kaap was nie beskikbaar nie, aangesien “die provinsie ‘n ander stelsel gebruik om data in te samel.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA