73 oproerige leerlinge vas
2010-09-11 12:00
Johan Brits en Vicus Bürger
Parys - Ongekende chaos oor onder meer eksamenpunte het Vrydag op Parys losgebars wat eindelik tot die inhegtenisneming van 73 oproerige hoërskoolleerlinge gelei het.
Op Senekal is eksamenvraestelle opgeskeur en leerlinge het die heining van die Hoërskool Paul Erasmus op vyf plekke platgestoot.
Ongeveer 600 hoërskoolleerlinge van drie Paryse skole, Yakhisiswe, Phehellang en Barnard Molokoane, wou na die Hoërskool Parys beweeg het om werksaamhede daar te ontwrig.
Dié drama het reeds Donderdag begin toe gr. 10-leerlinge aan dié skole hul eksamenvraestelle opgeskeur en op 25% se gratis punte aangedring het.
Altesaam 19 skole is op dié dag oor die Vrystaat heen ontwrig, het Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, aan Volksblad bevestig.
Voorts meen leerlinge weens die ontwrigting wat die onlangse drie weke lange staatsdiensstaking meegebring het, is hulle nog nie gereed vir die eksamens nie.
Leerlinge van verskillende skole in die Matwabeng-township naby Senekal het eksamenvraestelle opgeskeur waarna honderde na die Hoërskool Paul Erasmus opgeruk het.
Jacques Bradford, skoolhoof van Paul Erasmus, sê vyf dele van die skool se heining is platgestoot soos wat die oproeriges probeer het om die terrein te betree.
“My kinders skryf eksamen en hulle (die betogers) het buite die terrein gestaan en sing en skree.”
Dit het tot groot ontwrigting gelei, want die leerlinge en personeel van Paul Erasmus is deur die betogers ontstel.
Konst. Masopha Sefatsa, polisiewoordvoerder, sê die polisie het opgedaag en die betogende leerlinge verdryf.
Dié is toe terug na Matwabeng en het snoepwinkels met klippe gegooi.
Volgens Sefatsa ondersoek die polisie verskeie klagte van opsetlike saakbeskadiging.
Sers. Pumzile Makaula, woordvoerder van die polisie op Parys, het Vrydagmiddag aan Volksblad gesê die kinders is in hegtenis geneem omdat hulle aan ’n onwettige optog deelgeneem het. Die polisie het traangas gebruik om orde te kry.
Hulle is later die dag vrygelaat.
Die Paryse skoliere dreig glo om volgende week van die skool af weg te bly.
Die ontwrigting volg kort op ’n vergadering tussen die onderwysdepartement en leiers van dié studente-vereniging waarop glo ooreengekom is die eksamen sál voortgaan.
Ndaba het ook gesê daar sal nie aan die eis van 25% se gratis punte voldoen word nie.
“Baie skole is gereed vir die eksamen. Ons het (op die vergadering) ooreengekom die eksamen sal voortgaan.
“Die skole wat nog nie gereed is nie, moet ons verwittig sodat ’n ander plan gemaak kan word.”
Midde-in die onlangse drie weke lange staatsdiensstaking het die studente-organisasie Cosas sy lede opgesweep om vir 25% se “gratis punte” aan alle leerlinge te betoog.
Die Paryse leerlinge beweer hulle het hul eksamenrooster ’n dag voor die begin van die eksamen gekry. Die opstand op Parys is Vrydag glo deur Cosas-lede aangemoedig.