7 voertuie bots op N1 buite Kaapstad
2011-09-23 13:20
Kaapstad – Sewe motors het Vrydagoggend op die N1-snelweg in die rigting van Kaapstad naby die Giel Basson-afrit opeengehoop, het paramedici in ‘n verklaring gesê.
André Visser, woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het hewige vertragings veroorsaak.
Die oorsaak van die botsing is nog nie bekend nie, maar Visser sê ses motors en ‘n vragmotor was in die ongeluk betrokke.
Hy sê twee mense moes mediese behandeling kry toe paramedici by die ongelukstoneel opgedaag het. Die insittendes het ligte rug- en nekbeserings opgedoen.
Die pasiënte is op die toneel behandel voordat hulle na verskillende hospitale geneem is.
Volgens Visser was al drie lane sowat 20 minute lank gesluit.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24