60 beseer in Pretoria-ongelukke
2012-01-24 14:00
Pretoria – Altesaam 60 mense moes behandeling vir verskeie beserings kry ná twee ongelukke in Proesstraat in Pretoria, het paramedici gesê.
Vanessa Jackson, ‘n woordvoerder vir ER24, sê paramedici van omliggende gebiede is Dinsdagoggend ontbied om die beseerdes te behandel en na hospitale te neem.
Sy sê ‘n groot passasiersbus het trompop teen ‘n boom op die hoek van Proes- en Potgieterstraat gebots. Daar word vermoed dat die bestuurder nie kon stop nie as gevolg van die nat paaie.
Die voorkant van die bus aan die bestuurderskant het ernstige skade opgedoen. Niemand is ernstig beseer nie.
Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie.
Die tweede ongeluk het op die hoek van Proes- en Schubbart-straat plaasgevind.
‘n Konstruksievragmotor wat 30 mense vervoer het, het teen ‘n motor en toe in ‘n muur vasgery. Niemand van die motor is beseer nie, maar die vragmotor se 30 insittende is op die toneel behandel en per ambulans na hospitale geneem.
Jackson sê dit reën al sedert 02:00 en paaie is nat in die meeste dele.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24