58 kinders was in bus vir 32
2011-08-24 19:32
Johannesburg – Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sal ondersoek instel na hoekom ‘n bus met 32 sitplekke gebruik is om 58 skoolkinders te vervoer, het Donald Grant, LUR, gesê.
Dié bus was Woensdagoggend in ‘n noodlottige ongeluk betrokke toe die bestuurder beheer oor die bus verloor het op ‘n lae brug en die bus in ‘n dam geval het op pad skool toe. Die busbestuurder en 14 kinders het gesterf. Die oorblywende 44 kinders is beseer.
“Volgens ons rekords is die voertuig wat vir vervoer op dié roete goedgekeur is, ‘n bus waarin 67 leerders kan sit,” het Grant in ‘n verklaring gesê.
Daar is slegs beperkte omstandighede waaronder busse op roetes vervang kan word, het Grant gesê.
Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Woensdagmiddag gesê die toneel is skoongemaak en polisieduikers het ophou soek na lyke in die water.
“’n Ondersoekspan het ‘n lys van al die kinders en het hul ouers in kennis gestel.”
Die kinders was leerders aan die Rheenendal-laerskool. Hulle was tussen sewe en 14 jaar oud.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA