50% van SA-misdaad in Gauteng
2010-09-09 11:40
Kaapstad - Die helfte van alle misdaad in Suid-Afrika vind in Gauteng plaas.
Só het genl. Bheki Cele Donderdagoggend in Pretoria gesê by die bekendmaking van die jaar se misdaadstatistiek.
"50% van alle misdaad in die land vind in Gauteng plaas," aldus Cele.
"In Kwazulu-Natal lyk dit ook rof, maar ons hoop dinge word daar omgedraai."
Vroeër het Nathi Mthethwa, minister van polisie, bekendgemaak dat talle ernstige misdade soos moord, bankrooftogte en roof met verswarende omstandighede afgeneem het.
Cele was vol lof vir die gemeenskapspolisieforums wat volgens hom 'n groot bydrae lewer tot die bekamping van misdaad.
Volgens die generaal is die polisie se moraal besig om drasties te lig.
"Verlede jaar moes ek elke week tussen 10 en 15 lede se vorms teken wat die diens wou verlaat. Vanjaar was die eerste geval van iemand wat wil waai, in Augustus aan my bekendgemaak."
Cele het bygevoeg dat 4 000 voormalige lede hul terugkeer na die SAPD wil maak.
* Volg Nuus24 op Twitter.