50 Putco-busse in Mpumalanga geskut
2012-07-03 23:00
Johannesburg – Vyftig Putco-busse is Dinsdag deur die openbare vervoer-inspektoraat op die Moloto-pad geskut, het die padverkeersbestuurskorporasie gesê.
“Ons begin ‘n neiging sien dat van die groot operateurs die wet oortree deur voertuie met defekte of voertuie sonder ‘n permit te bestuur,” het die waarnemende uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, in ‘n verklaring gesê.
“Hulle speel met die lewens van ons mense en dit is onaanvaarbaar.”
Negentien mense is verlede Maandag dood toe ‘n bestuurder van ‘n Putco-bus beheer oor die voertuig verloor het op die R59 buite Meyerton. Vyf-en-vyftig mense is in die ongeluk beseer.
Die bus was glo een van agt Putco-busse wat van die pad afgehaal is nadat dit op 12 Junie ‘n padwaardigheidstoets by die Meyerton-toetsstasie gedop het.
Agtien van die 50 busse wat Dinsdag geskut is, het nie die nodige permitte gehad nie, terwyl die ander 32 defekte gehad het.
In KwaZulu-Natal is 19 luukse busse en minibusse van die paaie verwyder omdat hulle defektiewe remme gehad het.
Uit hulle het drie aan SA Roadlink, twee aan Eldo Coaches, drie aan Intercape, een aan Intercity en een aan City-to-City behoort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA