5 sterf toe drie taxi's bots
2010-04-05 16:49
Johannesburg – Vyf mense is dood en 13 ander beseer toe drie taxi's in 'n botsing op die R61 tussen Aberdeen en Beaufort-Wes in die Oos-Kaap betrokke was, het polisie Maandag gesê.
Volgens ao. Wena Theron het 'n band van een van die taxi's gebars, wat die botsing veroorsaak het.
Die drie vroue en twee mans wat in die botsing gesterf het, was onder die 15 passasiers in een van die taxi's. Dié taxi was van Kaapstad na Aberdeen onderweg.
Die ander tien passassiers is beseer, en is na nabygeleë hospitale in Aberdeen en Graaff-Reinett geneem.
Die tweede taxi, wat van Kaapstad na die Transkei onderweg was, het 23 insittendes gehad, waaronder twee babas.
Drie volwassenes in dié voertuig is beseer, en is na 'n hospitaal in Aberdeen geneem.
Die derde taxi, wat van Aberdeen na Kaapstad op pad was, het 13 insittendes gehad, waarvan nie een beseer is nie.
Al drie die bestuurders het slegs geringe beserings opgedoen.
Theron het gesê die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
– Sapa
- SAPA