5 rowers ry hulself vas in doodloop
2010-04-17 06:33
Johannesburg - Vyf gewapende rowers van Tembisa aan die Oos-Rand het hulle in Pretoria in ’n doodloopstraat vasgery enkele minute nadat hulle ’n oudpolisieman van R90 000, juwele en selfone beroof het.
Een verdagte is in die proses in albei bene gewond.
“Ek haat dit as iemand ’n vuurwapen op my rig,” het die polisieman, wat die verdagte ná ’n jaagtog raak geskiet het, gesê.
Pieter Engelbrecht (38), voorheen 17 jaar lank ’n polisieman, en sy vrou, Bernice (35), het by die verkeerslig op die hoek van Annie Bothalaan en Voortrekkersweg gestaan toe die rowers uit ’n houtskoolkleurige Mazda3 gespring en 9mm-pistole op hulle gerig het.
Engelbrecht bedryf ’n onderneming wat geld uitleen en het pas van die bank gekom toe hy beroof is.
“Die rowers het in hul voertuig gespring en weggery. Ek wou hulle agternasit toe ek kol. Roy Govender, bevelvoerder van die Pretoria Moot-polisie, en ao. Osie Oosthuizen in ’n ongemerkte voertuig aangery sien kom het,” het Engelbrecht gesê.
Die polisie het dadelik die verdagtes tot in Soutpansbergweg agternagesit.
Martin Duncan (23), wat tóé in sy bakkie in Soutpansbergweg in ’n oostelike rigting gery het, is deur die polisie beduie om sy afstand en spoed te hou sodat hulle die skurke ongesiens kon agtervolg.
“In ’n stadium het die polisie ver agtergeraak en ek is alleen agter die rowers aan. Hulle het uit Soutpansbergweg in Gordonweg gedraai en vinnig gery, maar ek het op hul spoor gebly.
“Toe hulle in Weavindstraat in Colbyn afdraai, het ek besef hulle het hul in ’n doodloopstraat vasgery en het ek dadelik omgedraai om die polisie in te lig,” het Duncan gesê.
Die polisie het die rowers van alle kante begin omsingel.
“Toe ek in Gordonweg afry, het twee rowers oor ’n heining gespring en in die straat afgehardloop. Ek het hulle met my bakkie gejaag tot in Soutpansbergweg. Een van die verdagtes het agter op ’n bakkie gespring.
“Ek het aan die bestuurder beduie dat hy ’n rower op sy bakkie het en toe hou hy stil. Die polisie was gou by en het die man (rower) net daar op die bakkie gearresteer. Dit was hectic!” het Duncan vertel.
Een van die vlugtende rowers het ’n vuurwapen op ’n polisieman gerig en is in albei bene geskiet.
Die polisie het drie vermoedelik gesteelde vuurwapens, waarvan twee tussen plante langs ’n heining in Gordonweg versteek was, gekry.
Die gebuite geld en Engelbrecht se horlosie is ook teruggekry.
Govender het die publiek én veral Duncan geloof vir die wyse waarop hulle die polisie gehelp het om die rowers aan te keer.
Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes is onderskeidelik 22, 30, 31, en twee is 28 jaar oud.
Engelbrecht het gesê ál wat hom en sy vrou aan die lewe gehou het, is die feit dat hulle kalm gebly en gedoen het wat die rowers gesê het. “Ons het ook die heeltyd afgekyk en nie na hulle nie.”
Weilbach het gesê die polisie ondersoek of die wegkommotor gesteel is en of die verdagtes met nog misdade verbind word.
Die verdagtes sal binnekort op aanklagte van gewapende roof in die hof verskyn.
- Beeld