5 ‘rowers’ in arres ná jaagtog
2011-07-30 07:39
Die polisie het gistermiddag vyf gewapende mans, wat vermoedelik op pad was om ’n rooftog te pleeg, ná ’n jaagtog in die ooste van Pretoria in ’n netjies beplande versperring op die N4-hoofweg vasgetrek.
’n AK47-aanvalsgeweer, ’n 9 mm-pistool, klapmusse en ’n koeëlvaste baadjie en ’n stel polisieboeie is by die vyf verdagtes, almal tussen 30 en 45 jaar oud, gevind.
“Ons is baie trots op hierdie sukses,” het konst. Sam Shibambo, polisiewoordvoerder, gesê.
“Al die betrokke polisiebeamptes het uitstekende werk gedoen.
“Die rowers het nie ’n kans gehad nie.”
Die jaagtog het volgens hom kort ná 15:00 in Silverton in Pretoria begin toe polisielede op patrollie in ’n gemerkte voertuig ’n wit, 1997-model Mercedes-Benz Kompressor met vyf insittendes, wat verdag voorgekom het, opgemerk het.
“Die polisielede het probeer om die Mercedes-Benz af te trek, maar toe die bestuurder die polisie gewaar, het hy weggejaag,” het Shibambo gesê.
Verskeie polisievoertuie in die omgewing is per radio om hulp gevra.
“Die verdagtes in die Mercedes-Benz het op die N4-hoofweg geklim en in die rigting van eMalahleni (Witbank) gejaag, met verskeie polisievoertuie kort op hul hakke,” het Shibambo gesê. ’n Padversperring is net ná die Hans Strydom-afrit, noord van Silver Lakes, opgestel.
“Daar was toe al meer as tien gemerkte en ongemerkte polisievoertuie wat deel van die jaagtog en die padversperring was. Die rowers ... moes noodgedwonge tot stilstand kom en is onmiddellik in hegtenis geneem.”
Geen skote is volgens Shibambo tydens die jaagtog afgevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie.
“Ons vermoed hulle was op pad om ’n rooftog te pleeg en ’n ondersoek is begin om vas te stel met watter vorige misdade hulle verbind kan word,” het hy gesê.
Die vyf verdagtes sal binnekort in die Pretoriase landdroshof op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en roekelose of nalatige bestuur verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld