5 648 amptelike slaggate in NW (ja, hulle is getel!)
2010-03-16 07:35
Linda de Beer, Beeld
Johannesburg - Daar is 5 648 amptelike slaggate in Noordwes se Dr. Kenneth Kaunda-streek – en daarvan is 2 500 op die pad tussen Wolmaransstad en Schweizer-Reneke.
Noordwes se departement van openbare werke, paaie en vervoer het by navraag ’n opname verskaf van al die slaggate in dié streek.
Dit sluit in plekke soos Potchefstroom, Klerksdorp, Ventersdorp, Wolmaransstad, Orkney en Leeudoringstad.
Tussen Potchefstroom en Vanderbijlpark is die 150 slaggate ’n groot nagmerrie vir motoriste. Luidens die opname word daagliks aan dié pad gewerk.
Om van Klerksdorp tot in Ventersdorp en andersom te kom, moet motoriste vir 596 slaggate uitswaai. Die grootste gedeelte van dié pad van Ventersdorp se rigting af word volgens die departement daagliks gemonitor en die res kry elke tweede dag ’n besoek van padwerkers.
Een padgebruiker het die toestand van paaie wat hy gereeld ry só beskryf: “Die pad tussen Ottosdal en Hartbeesfontein is in sy m*** in, die een tussen Vryburg en Schweizer-Reneke is ’n ramp en daar is enkele gate in die pad tussen Schweizer en Delareyville.”
Werk word volgens die departement ook elke dag gedoen aan die pad tussen Wolmaransstad en Schweizer-Reneke, waar mense plek-plek eerder op die grondskouer ry.
Die paaie-afdeling het sy volle begroting vir 2009-’10 in minder as ses maande bestee.
Die inligting oor die Dr. Kenneth Kaunda-streek sluit nie nasionale paaie soos die N12 en die N14 in nie en ook nie munisipale strate nie.
- Beeld