5 000 buitelandse onnies in SA skole
2011-07-26 12:33
Johannesburg – Meer as 5 400 buitelandse onderwysers werk in publieke skole in Suid-Afrika, het The Times Dinsdag berig.
'n Totaal van 3 796 is Zimbabwiërs, het syfers wat in Mei van Persal, die regering se rekenaarbetaalstelsel, geneem is, getoon.
Sowat 500 onderwysers is van Ghana, 501 van Indië en 90 van Namibië
Meeste buitelandse onderwysers bied vakke soos wiskunde, fisiese wetenskap en tegnologie aan vir gr.7 tot gr.12 by skole in Gauteng (1 286), Oos-Kaap (975) en Limpopo (934).
Onderwysvakbonde het Maandag gesê Suid-Afrike het te min onderwysers omdat skoolverlaters die beroep weens die betaling miskyk.
Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), het gesê baie onderwysers verlaat die land omdat dié beroep nie "aantreklik is in Suid-Afrika nie".
Sowat 10 000 onderwysers verlaat jaarliks die beroep, terwyl minder as 6 000 onderwysers jaarliks gradueer, het die departement van basiese onderwys gesê.
Hope Mokgatlhe, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het gesê buitelandse onderwysers is as 'n tydelike maatreël aangestel terwyl die departement werk om meer plaaslike onderwysers te kry.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA