46% kry nie permit om wapen te besit
2011-05-25 10:07
Kaapstad – Byna die helfte van die vuurwapenlisensie-aansoeke wat in sowat ses maande gehanteer is, is van die hand gewys.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het Dinsdag in antwoord op parlementêre vraag gesê 39 851 aansoeke (sowat 46%), van dié wat van 1 Oktober 2010 tot 18 April vanjaar gehanteer is, is van die hand gewys. 46 374 aansoeke is in dieselfde tyd goedgekeur.
Zweli Mnisi, Mthethwa se woordvoerder, kon nie sê hoeveel onafgehandelde aansoeke daar op 1 Oktober was toe die minister ’n taakspan aangestel het om die sentrale vuurwapenregister se agterstand binne nege maande uit te wis nie.
Pieter Groenewald, VF+-LP, het gesê hy kon nog nooit ’n besliste antwoord van die minister kry oor die agterstand in die hantering van aansoeke om vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate nie.
Uit antwoorde van die minister in die parlement blyk dit dat daar van 2004 tot einde Januarie 2009 604 928 aansoeke om bevoegdheidsertifikate en 881 136 hernuwingsaansoeke om vuurwapenlisensies was.
Volgens die antwoorde is net 38,8% van die aansoeke om herlisensiëring en 58,8% van dié om bevoegdheidsertifikate ten volle verwerk.
Volgens Groenewald was die agterstand op 1 Oktober sowat 450 000 aansoeke. Dít sluit aansoeke om vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate in.
Mthethwa het Dinsdag gesê hy het die polisiesekretariaat gevra om weer na die redes vir die afkeuring van elke aansoek te kyk “sodat die fokus nie net daarop is om ’n sperdatum te haal nie, maar dat alles in ooreenstemming met die wet geskied”.
“Die getal vuurwapenlisensie-aansoeke wat goedgekeur is, vorder, maar baie moet nog gedoen word om seker te maak wettige vuurwapens bly in verantwoordelike, wetsgehoorsame burgers se hande,” het Mthethwa gesê.
“Onwettige vuurwapens dra by tot misdaad en stel wetsgehoorsame burgers in gevaar. As ons die probleem van vuurwapens wat onwettig in misdadigers se hande is, kan takel, kan ons misdaad aansienlik verminder.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld