46 Babas op Madiba-dag gebore
2009-07-20 10:17
Port Elizabeth – Terwyl die wêreld oudpres. Nelson Mandela se verjaardag gevier het, het sowat 50 pienkvoete hul opwagting in die wêreld gemaak.
Dié babas is almal Saterdag in Nelson Mandela Baai gebore toe die oudpresident sy 91ste verjaardag gevier het.
By die Dora Nginza-hospiaal is 35 babas gebore. Tien babas is by die Uitenhage-provinsiale hospitaal gebore en een baba is by beide die Greenacres- en St. George’s-hospitale gebore.
Terwyl duisende mense regoor die wêreld 67 minute aan liedadigheid gewy het, het Roxanne Tobias van Colchester omstreeks 07:55 die lewe aan haar dogtertjie,Karien, geskenk.
“Ek het vir 40 minute geboortepyne gehad voor Karien gebore is. Ek was so gelukkig ek het sommer ‘n blikkie koeldrank by die smous gekoop om haar geboorte op Madiba-dag te vier.”
Ncediswa Manga van Motherwell het om 09:30 geboorte geskenk aan haar seuntjie, Ayabonga.
Sy het gesê sy hoop haar seun word ‘n wêreldleier nes Madiba.
“My familie het vanoggend ‘n hoender geslag om sy geboorte te vier,” het sy gesê.
SAPA