40% van rade se geldsake is 'beroerd'
2012-01-16 09:18
Kaapstad – ’n Beroep is Sondag op pres. Jacob Zuma gedoen om in te gryp by munisipaliteite wat finansieel reeds op hul knieë is.
Joe Mcgluwa, die OD se parlementêre leier, het gesê dit is “skandalig dat die geldsake van nagenoeg 40% van die land se munisipaliteite beroerd is”.
Hy het verwys na ’n tesourie-verslag oor finansiële bestuur in munisipaliteite.
Die Sunday Times het Sondag berig ’n tesourie-verslag toon 66 van die 278 munisipaliteite is in ’n erge geldelike verknorsing en nog 37 gaan binnekort dieselfde paadjie loop.
Woordvoerders vir die tesourie kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.
Mcgluwa het gesê ’n munisipaliteit is die hartklop van ’n gemeenskap en die departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede moet stappe doen om dit reg te stel.
Sondag is ook vinger gewys na kaderontplooiing binne die ANC, wat glo die finansiële gemors waarin die meeste munisipaliteite is, veroorsaak.
Dít ondanks onlangse uitsprake vanuit die ANC dat kaderontplooiing nie deel is van ANC-beleid nie.
James Lorimer, DA-LP, het Sondag in reaksie op ’n tesourie-verslag oor munisipaliteite se geldsake, gesê dit blyk kader-ontplooiing is “nog lewend”.
Volgens Lorimer is dit uit die verslag duidelik hoeveel skade kader-ontplooiing aan munisipaliteite en dienslewering aanrig.
“Dit is steeds baantjies vir boeties in hoe die ANC munisipale poste toeken, selfs al maak nuwe wetswysigings dit moeiliker.”
Luidens die tesourie-verslag word probleme soos belangrike poste wat nie gevul word nie, politieke inmenging en swak invordering van dienstegeld ook toegeskryf aan kader-ontplooiing.
Dit is egter nie net plaaslike munisipaliteite nie, maar ook metro’s soos Ekhuruleni en die Mangaung-munisipaliteit, wat sukkel.
Ook die Polokwane- en Msunduzi (Pietermaritzburg)-munisipaliteite sukkel om hul geldsake te bestuur.
Milisa Kentane, woordvoerder van die Vereniging van Plaaslike Rade (Salga), het in ’n verklaring gesê die verslag wys daar lê nog baie werk voor, maar die “aansienlike vordering wat reeds gemaak is, moenie geringskat word nie”.
Volgens Kentane is munisipaliteite in ’n geldelike verknorsing omdat dit plattelandse gemeenskappe met krimpende ekonomiese vooruitsigte bedien.
“Die munisipaliteite moet ondanks ’n lae inkomstebasis steeds dienste lewer, al is die inwoners te arm om daarvoor te betaal.”
Sy het bygevoeg dat dit in sommige munisipaliteite juis sekere regeringsdepartemente is wat met groot diensteskulde tot die munisipaliteite se finansiële verknorsing bydra.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger