4 transito-rowers doodgeskiet
2009-10-26 18:02
Johannesburg - Lede van die polisie in Kaapstad het Maandag vier misdadigers doodgeskiet in 'n mislukte transito-roof.
'n Groep van vyf misdadigers het 'n Coin Security-geldwa in Bamfordstraat, Kuilsriver, rondom middagete aangeval.
Polisiebeamptes op patrollie in die area het opgetree.
'n Skietgeveg het uitgebreek en twee rowers is doodgeskiet, het 'n woordvoerder, Musa Zondi, gesê.
Die ander drie rowers het op die vlug geslaan. Die polisie het die groep agtervolg en daar is weer op hulle gevuur.
Nog twee boewe is in Lourensstraat dood toe die polisie terugskiet. Die vyfde oortreder is ongedeerd in hegtenis geneem.
Twee handgewere, 'n AK-47 en 'n R4-geweer is gekonfiskeer.
Die vyfde rower sal na verwagting in die Kuilsrivier landdroshof verskyn, onder andere op aanklagte van poging tot roof, poging tot moord en die onwettige besit van 'n vuurwapen.
- Sapa