4 jonges sterf in ongeluk
2009-12-25 14:18
Johannesburg - Vier mense is dood in 'n motorongeluk nadat hul motor naby Kimberley omgeslaan het.
Polisiewoorvoerder kapt. Tony Modise het Vrydag gesê die voertuig was op die pad tussen Barkly-Wes en Winsorton toe die band blykbaar gebars het.
Die ongeluk het Donderdag plaasgevind.
"Die motor het van die pad afgeswaai en omgeslaan," aldus Modise.
Die vyf insittendes is uit die motor geslinger. 'n Vrou (34) en 'n man (23) is op die toneel oorlede.
Twee vroue-passasiers is op pad na die hospitaal dood.
Die bestuurder (22) is in 'n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem.
'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
- Sapa