4 beseer ná olietenk ontplof
2009-10-25 21:03
Johannesburg - Vier mans is beseer nadat 'n 23 000 liter olietenk by die SATI-chemikalieë-aanleg in Amanzimtoti ontplof het.
Die oorsaak van Sondag se ontploffing is nog nie bekend nie.
Jeff Wicks, 'n woordvoerder van Netcare, het gesê een van die mans het brandwonde aan sy gesig en bene opgedoen en is in die hospitaal opgeneem vir verdere behandeling.
"Die ander mans sal na verwagting Sondag ontslaan word."
Hy het gesê die ontploffing het die omliggende fabrieke en woongebiede geruk.
"Die brandweermanne sê die rook is nie gevaarlik nie, so daar is geen rede om bekommerd te wees nie. Die tenk is steeds aan die brand en daar word gevrees dat ander houers ook aan die brand kan slaan as die brand nie in bedwang gebring word nie."
– Sapa