4 Wildstropers betrap
2009-08-27 19:34
Johannesburg - Vier mans is in hegtenis geneem terwyl hulle op heterdaad betrap is met ‘n .303-geweer en twee renosterhorings in Ezemvelo in KwaZulu-Natal.
“Laat Woensdagmiddag het KwaZulu-Natal Wildlife se veldwagters ‘n enkele geweerskoot gehoor. Wildbewaarders is dadelik uitgeroep en die polisie is gekontak”, het 'n woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife gesê.
Polisielede het gehelp om ‘n padblokkade op te stel en ‘n voertuig met vier mense het verdag voorgekom toe hulle die padblokkade probeer vryspring het.
Polisie het die voertuig deursoek en die geweer in die voertuig gevind. Hulle het ook bloedmerke raakgesien voor hulle die renosterhorings gevind het.
Die vier mans is in hegtenis geneem en ‘n witrenoster se karkas is kort daarna opgespoor.
Daar is tot dusver al 19 renosters vanjaar in KwaZulu-Natal doodgemaak.
- Sapa