3 vas wat Pretorianers teiken
2011-01-25 11:10
Pretoria – Drie vermeende misdadigers is vasgetrek wat na bewering deel van ’n sindikaat is wat Pretorianers geteiken het.
Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het gesê die mans is Maandag in hegtenis geneem terwyl hulle op pad was om by ’n huis in te breek.
Hulle is vermoedelik al maande lank in Pretoria bedrywig nadat drie gesteelde voertuie, ’n gekaapte voertuig, asook derduisende rande se vermoedelik gesteelde elektroniese ware in hul besit gevind is.
“Dié mans het inwoners van Pretoria vermoedelik die laaste paar maande geteister deur by hulle in te breek en ander te kaap,” het Sepato gesê.
Volgens hom was die Mamelodi-polisiekantoor se taakspan gisteroggend met ’n stop-en-deursoek-operasie in Mamelodi, in die ooste van Pretoria, besig toe hulle inligting ontvang van ’n gekaapte Audi A4 met ’n opsporingstoestel wat in die omgewing is.
Dit is onduidelik presies wanneer dié motor gekaap is, maar dit is na wat verneem word al sowat drie maande gelede.
Die polisie het die motor opgemerk, agternagesit en van die pad gedwing.
“Toe die polisie stilhou het ’n man uit die motor gespring en weggehardloop,” het Sepato gesê.
“Die polisie het die ander twee mans wat in die motor was, in hegtenis geneem.
“In die voertuig het die polisie inbreek-gereedskap gevind. Die mans was op pad om by ’n huis in te breek.
“Ná verdere ondersoek en ondervraging het een van die verdagtes die polisie na ’n huis in Nellmapius, Mamelodi, geneem waar hulle ’n 36-jarige man gevind het.
“In die huis het die polisie op verskeie elektroniese ware, asook bykans R16 000, afgekom.
“Die polisie vermoed misdadigers neem hul gesteelde goedere na dié man, wat die goedere by hulle koop.”
Die polisie is daarna na die verdagte wat weggehardloop het se huis, waar hulle ’n BMW, wat die naweek in Centurion gesteel is, en ’n gesteelde VW Golf gevind het.
Die man was nie tuis nie.
Tydens hul ondersoek het die polisie ook ’n gesteelde Uno teruggekry.
Sepato het gesê die drie mans sal binnekort in die Pretoriase landdroshof op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere, die besit van ’n gekaapte voertuig en die besit van inbreek-gereedskap verskyn.
Die moontlikheid word ondersoek om hulle met ander sake van kaping, diefstal en inbrake te verbind.
Sepato het gevra dat mense by wie TV’s, plasmaskerms, CD-spelers, luidsprekers en ’n oond die laaste paar maande gesteel is dit by die Silverton-polisiekantoor sal gaan uitken om te bepaal waar die goedere gesteel is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld