3 lyke in KwaZulu-Natal gevind
2010-08-21 06:19
Durban – Polisie in KwaZulu-Natal het Vrydag ‘n ondersoek geloods nadat die lyke van drie vroue op suikerrietplase in Empangeni gevind is.
“Die lyke van drie vroue is gevind. Twee van hulle was al ontbind en die derde vrou, Jabu Langa, is vermoedelik verwurg,” het kapt. Mbongiseni Mdlalose gesê.
Langa (27) het verlede Vrydag haar gesin gekontak en gesê sy neem ‘n taxi van Durban na Empangeni. Dit was die laaste keer wat hulle van haar gehoor het.
“Langa se gesin het haar Saterdag as vermis aangemeld. ‘n Groep munisipale werkers wat in die omgewing gewerk het, het polisie Dinsdag in kennis gestel dat hulle ‘n lyk gevind het,” het Mdlalose gesê.
Polisie sê Langa is verwurg.
Die tweede lyk is by die plaas Hillview gevind. Die vrou is om en by 35 jaar oud en dit is glo moeilik om vas te stel wat die oorsaak van haar dood is omdat haar lyk al begin ontbind het.
Die derde lyk, die van Nozipho Mchunu (27) is in Junie op die plaas Login gevind.
Polisie het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om owerhede te kontak met enige besonderhede oor die moorde.
Volg Nuus24 op Twitter.