3 leerders met dagga betrap
2010-03-09 02:23
Johannesburg - Drie leerders tussen die ouderdom van 15 en 17 van Heidelberg is in hegtenis geneem vir die besit van dagga, het die polisie Maandag gesê.
Kapt. Thivhulawi Tshilate het gesê die leerders is in hegtenis geneem toe die dwelms glo in hul koshuis gevind is.
Die hoof van die gemeenskapspolisiëringsforum het 'n wenk gekry dat die leerders dagga verkoop en gevolglik is hul kamers deursoek.
Ná 'n onderhoud met hulle gevoer is, is vasgestel dat die dagga in 'n nabye veld groei. Die straatwaarde van die dagga wat by die skool en in die veld gevind is, is R15 000.
Die seuns is in die sorg van hul skool vrygelaat tot hulle binnekort in die hof verskyn.
– Sapa