3-jarige moet gesin lossny ná rooftog
2010-08-28 07:35
Pretoria - ’n Driejarige seuntjie moes sy ouers en sy vyfjarige sussie in hul huis in Rietfontein, Pretoria, gaan help nadat hulle in ’n rooftog vasgebind en sokkies in hul monde gestop is.
Dít blyk uit getuienis wat gister in die hooggeregshof in Pretoria gelewer is in die verhoor van Charles Seaparo Sekwati en Timothy Nalane Tumiso.
Sekwati word aangekla van drie huisrooftogte in 2008: twee in Faerie Glen en dié een in Rietfontein.
Tumiso word aangekla van een van die rooftogte in Faerie Glen.
Meyer Jooste van Rietfontein het getuig hy het op 30 Mei 2008 omstreeks 03:35 rekenaarwerk in sy huis se leefvertrek gedoen.
Drie mense, gewapen met onderskeidelik ’n vuurwapen, steakmes en ’n skêr, het die huis betree.
Hulle het die kombuisvenster oopgedwing nadat die diefwering met ’n skroewedraaier afgebreek is.
Volgens Jooste is hy, sy vrou en dogter bymekaar vasgebind.
Sokkies is in hul monde gedruk.
Vier skootrekenaars, vier selfone, juwele en sowat R850 is gevat. Kos is uit die yskas gevat.
Niks van die gesteelde goedere, van sowat R70 000, is teruggekry nie.
Jooste het getuig sy seuntjie het deur die voorval geslaap.
“Ons het die kouse uit ons monde gehaal en ons seuntjie geroep dat hy ons kom lossny.”
Hy het getuig hy sal nie die inbrekers kan identifiseer nie.
“Ek het hulle net vlugtig gesien toe hulle ingekom het, want die een met die wapen het gesê: ‘Gaan lê.’ Ek was heeltyd op my maag.”
Die verdediging het dit gister aan Jooste gestel dat Sekwati aanvoer hy was nie op dié toneel nie.
Jooste het geantwoord: “Ek glo nie dis waar nie.”
Jooste het getuig hy sê so, want vingerafdrukke is by sy huis gekry wat met Sekwati verbind word.
- Beeld