280 000 vir spoed beboet
2009-12-28 12:29
Vania van der Heever
Kaapstad - Altesaam 840 motoriste is tussen 1 en 26 Desember op Suid-Afrikaanse paaie in 654 ongelukke dood.
Altesaam 218 bestuurders, 327 passasier en 295 voetgangers het die Desember-vakansie gesterf.
Logan Maistry, woordvoerder van die departement van vervoer, het gesê meer as 500 000 voertuie is deur beamptes gestop en deursoek. “Ons beoog om teen Januarie nie minder nie as een miljoen voertuie te stop en te deursoek.”
Altesaam 3 000 dronkbestuurders is landwyd in hegtenis geneem en sowat 2 000 onpadwaardige voertuie, waarvan 1 000 busse en taxi’s was, is as deel van die Kom Veilig Daar- veldtog van die paaie gehaal.
Meer as 280 000 motoriste is vir spoedoortredings beboet en 200 ander is vir roekelose en nalatige bestuur beboet.
Duisende motoriste is beboet omdat hulle versuim het om hul veiligheidsgordels te dra.
Sibusiso Ndebele, minister van vervoer, het in ’n verklaring gesê padoortreders sal geen genade kry nie.
Xenephone Wentzel, woordvoerder van die provinsiale verkeersdepartement, het gesê die Wes-Kaap se paaie was baie stil oor die Kersnaweek.
“Op 24 Desember het ons hoë verkeersvolumes gehad omdat mense waarskynlik na hul families gegaan het. Op Kersdag en Welwillendheidsdag was die paaie ook stil, maar naby die kusgebiede was daar hoër verkeersvolumes,” het hy gesê.
Volgens Wentzel is geen provinsiale paaie gesluit nie.
Kevin Jacobs, woordvoerder van die Kaapstadse munisipale verkeersdepartement, het gesê die paaie naby die strande was vanjaar baie besig. “Daar was nie hoë verkeersvolumes naby Sir Lowry’s Pass nie,” het hy gesê.
- Die Burger