27 000 onderwysers weg oor ‘swak moreel’
2010-06-04 09:02
Die Burger
Kaapstad – Byna 27 000 onderwysers het die skolestelsel die afgelope vyf jaar verlaat. Verreweg die meeste het bedank.
Dít blyk uit antwoord op ’n parlementêre vraag van John Gunda, OD-LP.
Luidens statistieke wat die departement van basiese onderwys bekend gemaak het, het meer as 9 000 onderwysers die skolestelesel in die boekjaar 2007-’08 verlaat.
Volgens die departement het die meeste van hulle bedank. Die getal onderwysers wat weens swak gesondheid onslaan is, het beduidend gedaal.
Die grootste verlies aan onderwysers was in Gauteng, waar 5 614 se diens die afgelope vyf jaar beëindig is.
Kort op Gauteng se hakke volg KwaZulu-Natal, waar 5 105 onderwysers die afgelope vyf jaar bedank het.
In die Wes-Kaap het net meer as 3 000 onderwysers die skolestelsel die afgelope vyf jaar verlaat.
Graeme Bloch, ’n onderwyskundige by die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika, meen die groot getal bedankings is te wyte aan die swak moreel onder baie onderwysers.
“Baie van hulle moet in uiters slegte omstandighede skoolhou en hulle voel dikwels dat hulle nie erkenning kry vir die belangrike rol wat hulle speel nie,” het hyaangevoer.
Volgens Bloch word ’n fout ook begaan deur alle onderwysers oor dieselfde kam te skeer wanneer kritiek op die skolestelsel en onderwysers uitgespreek word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger