26 mynwerkers die naweek begrawe
2012-08-31 22:30
Johannesburg – Altesaam 26 van die 34 mynwerkers wat tydens die skietery in Marikana dood is, sal die naweek begrawe word, het die inter-ministriële komitee Vrydag gesê.
Harold Maloka, woordvoerder van die komitee, het gesê die regering het sover 43 doodsertifikate aan families uitgereik.
Die komitee, wat uit verskeie regeringsministers bestaan, is deur die presidensie aangestel om die families van slagoffers te help.
Die polisie het op 16 Augustus 34 mynwerkers naby Lonmin se Marikana-myn, in die Noordwes, doodgeskiet terwyl 78 ander gewond is.
Tien ander mense, insluitend twee polisiebeamptes, is ook doodgeskiet.
Maloka het gesê 24 mense sal Saterdag begrawe word terwyl twee ander mynwerkers Sondag in twee verskillende provinsies ter ruste gelê sal word.
Agt ander mense sal op 8 September begrawe word. Ander begrafnisse sal in Swaziland en Lesotho plaasvind.
Collins Chabane, minister in die presidensie, sal 'n begrafnis in Lusikisiki, in die Oos-Kaap, bywoon.
Maloka het gesê 18 busse en 17 taxi's is vir die families en mynwerkers beskikbaar gestel om die begrafnisse by te woon.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA