26 beseer in KZN-ongelukke
2009-11-01 13:45
Johannesburg - Ses en twintig mense, insluitend 'n 11-jarige seun, is dié naweek beseer in verskeie ongelukke in KwaZulu-Natal.
Vier vroue het moontlike kop- en rugbeserings opgedoen toe hulle motor Sondagoggend die pad verlaat het en omgeslaan het in Verulam, het Jeff Wicks van Netcare 911 gesê.
Dié ongeluk het gebeur ná die bestuurder 'n opdrag van die polisie geïgnoreer het om stil te hou. Die bestuurder is later in hegtenis geneem.
Volgens Wicks het paramedici die beseerdes op die ongelukstoneel gestabiliseer en toe na 'n hospitaal geneem.
In 'n ander voorval is 'n pa en sy dogter beseer toe hulle motorfietse teen mekaar gebots het by 'n draai op die R617 naby Bulwer.
Die man het ernstige kopbeserings opgedoen en is per helikopter vervoer na die St Anne's-hospitaal. Sy dogter het moontlike kop- en rugbeserings opgedoen, en ook moontlik haar linkerarm en -hand gebreek.
Nog 16 mense is beseer toe die bakkie waarin hulle gery het Saterdagmiddag omgeslaan het op die N2 naby Umkomaas, suid van Durban.
Volgens Wicks is een insittende ernstig beseer, en die ander het ligter beserings opgedoen.
In nog 'n voorval Saterdag is twee mense ernstig beseer toe 'n bestuurder beheer verloor het oor 'n motor op die N2 suid naby Tinley Manor.
"Paramedici het die verfrommelde wrak van 'n VW Citi Golf op die toneel gevind. Die bestuurder en die passasier was steeds in die motor vasgekeer," het Wicks gesê.
Lewenskake is gebruik om die insittendes uit die voertuig te verwyder.
Die bestuurder is per helikopter vervoer na die Inkosi Albert Luthuli Sentrale Hospitaal.
Dié hospitaal het ook 'n 11-jarige seun opgeneem wat Saterdag deur 'n motor getref is op Stanmore-rylaan in Phoenix.
Die seun het oor die pad gehardloop voor aankomende verkeer in. Hy het ernstige kopbeserings en verskeie breuke opgedoen, het Wicks gesê.
In 'n ander voorval op Saterdag is 'n werker by 'n vulstasie beseer toe hy deur 'n motor in Northway, Durban, getref is.
"Volgens ooggetuies het die bestuurder beheer verloor oor sy motor. Hy het van die toneel gevlug en word gesoek deur die polisie," het Wicks gesê.
- SAPA