22 meisies ontvoer; gedwing om te trou
2012-11-17 14:45
Johannesburg – Altesaam 22 meisies in die Bergville-distrik in KwaZulu-Natal is ontvoer en gedwing, om ingevolge 'n praktyk bekend as Ukuthwala, te trou, is Saterdag berig.
Dít is volgens The Weekend Witness onthul in 'n ondersoek wat deur die kommissie vir gendergelykheid (CGE) gedoen is.
Die CGE het Vrydag in Durban 'n debat oor Ukuthwala gehou en sy bevindings, insluitend verskeie departemente se reaksie, bekend gemaak.
Nomusa Kunene van die CGE het gesê die ondersoek het gebiede uitgelig waar die praktyk gereeld voorkom.
Sy het gesê sy het gehoor van 'n geval waar 'n 13-jarige meisie aan 'n boom vasgemaak is om te verhoed dat sy van haar toekomstige "man" vlug.
Kunene het gesê sommige geloofsgroepe beskou die praktyk as 'n manier om die verspreiding van MIV te verhoed, omdat die kinders al jonk trou.
Sommige ouers is medepligtig, omdat hulle hul dogters as "kontantkoeie" beskou.
"Ons moenie die tradisionele praktyk van Ukuthwala verwar met die kriminele aktiweite van jong mans nie, en ook nie dié van ouers van jong dogters wat hulle dwing om te trou nie," het Taryn Powys, 'n navorser van CGE, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA