2012 'n maer-jaar, voorspel ekonome
2011-12-28 10:03
Johannesburg – Die deursnee-persoon moet hom- of haarself in 2012 vir prysverhogings staal, nie groot salarisverhogings verwag nie en besef dat rentekoerse waarskynlik nie gaan daal nie.
Ekonome was dit Dinsdag eens dat Suid-Afrika se ekonomie in 2012 teen ’n slakkepas gaan groei en werkloosheid vir die meeste matrieks en gegradueerdes ’n werklikheid sal bly.
Dié situasie kan boonop versleg as Europa nie uit sy geldkrisis kom nie. As die situasie in Europa versleg, dreig ’n potensiële wêreldwye depressie soos wat in 1929 ervaar is, het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, gister gesê.
Volgens Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, sal die gemiddelde gesin se beursie toenemend onder druk wees weens elektrisiteits- en watertariefverhogings wat ’n uitwerking het op die pryse van ander produkte sowel as skerp stygings in kospryse.
“Omdat die prysstygings veroorsaak dat inflasie ’n probleem bly, gaan rentekoerse nie verder kan daal nie.
“Daar is reeds ’n tendens waar mense kleiner motors koop om aan hul basiese behoeftes te voldoen pleks van luukse motors.
“Meer mense koop kleiner huise in goedkoper areas wat meer bekostigbaar is.
“Boonop werk al hoe meer mense van die huis af en staan meer en meer kantoorblokke leeg. Dit raak te duur om winkels in winkelsentrums te huur. Iets soos CD- en DVD-winkels word al hoe minder namate meer en meer mense aanlyn-inkopies doen,” het Schüssler gesê.
Volgens hom behoort Suid-Afrika 180 000 mense per kwartaal of 60 000 mense per maand aan te stel.
“Ons gaan nie daarby uitkom nie. Suid-Afrika sal waarskynlik net 10 000 mense per maand werk kan bied,” het hy verduidelik.
Dit gaan veroorsaak dat werkgewers kieskeuriger kan wees met wie hulle aanstel.
“Jy gaan jouself moet bemagtig met skaars vaardighede om ’n werk te kry of vir jouself werk skep.
“Tradisionele werk waar mense maandeliks vir ’n salaris werk, gaan al hoe minder word,” het Schüssler gesê.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gesê verbruikers moet spaarsamer lewe, beplan vir die slegste scenario en minder skuld maak.
Skoolverlaters moet hulle met skaars en kritiese vaardighede toerus.
“Daar is ’n miljoen vakante poste in Suid-Afrika wat weens vaardigheidstekorte nie gevul kan word nie.
“Daarom moet werksoekers seker maak dat hulle hulself daarin bekwaam om 100% seker te wees hulle sal werk kry.
“Daar sal altyd ’n tekort wees aan ambagsmanne, onderwysers, enige medici, ingenieurs en in inligtingstegnologie,” het Hermann gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld