2010 is SA se jaar
2009-12-31 23:40
Johannesburg - President Jacob Zuma meen dat Suid-Afrika in 2010 moet poog om eenheid in die nasie te skep.
“Saam moet ons in 2010 weer opnuut poog om ons nasie te bou,” het Zuma Donderdag in sy Nuwejaarsboodskap gesê.
Volgens Zuma sal 1 Januarie 2010 die begin wees van een van die belangrikste jare in die land se geskiedenis sedert 1994.
“Ons moet die kultuur van negatiwiteit agter die rug kry.”
Wêreldbeker-sokkertoernooi
Politieke partye, tradisionele leiers, besighede, werkers, die jeug, vroue, die media en geestelike leiers moet almal saam staan om die sukses van die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi te verseker.
“Ons Suid-Afrikaners moet hierdie een van die mees suksesvolle projekte ooit maak en weer soos met die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 saamstaan.”
Volgens Zuma moet 2010 ons herinner dat ons baie het om voor dankbaar te wees in Suid-Afrika.
“2010 moet die jaar wees waarin ons Suid-Afrika eerste sit. Ons moet almal ambassadeurs word vir ons land.
“Die belangrikste is om die nuwe jaar te geniet. Gelukkige Nuwejaar en ‘n voorspoedige 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi aan almal,” het hy gesê.
–Sapa