200 polisielede nodig by staking
2009-07-29 12:51
Kaapstad- Twee polisiemotors, twee Nyalas, ses perde en 200 polisielede word benodig om oor die sowat 2000 stakende munisipale werkers in Kaapstad te waak.
Die stakers het reeds vroeg Woensdagoggend in die middestad saamgedrom en stokke en plakkate rondgeswaai.
Teen 12:00 het die optog na die burgersentrum in die stad nog vreedsaam verloop.
Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) en die Independent Municipal and Allied Trade Union (Imatu) sal teen die einde van die dag besluit of hulle die nuutste loonaanbod vanaf die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) sal aanvaar.
Salga bied op hierdie stadium ‘n 11.5% verhoging vanaf 1 julie aan, asook ‘n verdere 1.5% vanaf Januarie 2010.
Imatu is van mening dat sy lede moontlik die nuutste aanbod sal aanvaar. “Op hierdie stadium lyk dit baie positief,” het Johan Koen, Imatu se hoofsekretaris, gesê.
In die res van die land:
Sekere munisipale kantore in Pretoria is tydelik gesluit nadat stakers daar oproerig begin raak het. Die stakings in Johannesburg het teen 12:00 Woensdag nog vreedsaam verloop. Sowat 125 000 munisipale werkers neem landswyd aan die staking deel.
–Sapa